Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Mirakel in die Agterplaas" deur FERDI GREYLING
"Mirakel in die Agterplaas" deur FERDI GREYLING [boodskap #22455] Do, 15 April 1999 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
MIRAKEL IN DIE AGTERPLAAS
Ferdi Greyling

1

In die agterplaas onder die boom
sien hy alle kleure moontlik
van die donderwolke op hom afkaats.
Die wolke word donker
en suig al die kleure in
wat van grond en blom en boom
op uit die agterplaas kaats,
voor dit reën en dit
in bane van swaartekrag
aarde toe los.

2

Om sy stoel in die agterplaas
oneindig in alle rigtings
verskiet die heelal.

Om alle stoele in alle agterplase
verskiet hierdie heelal
oneindig in alle rigtings.

In oneindigheid lê alle dinge,
want alle dinge lê oneindig
in tyd en ruimte
wat in alle rigtings verskiet.

Alles speel noodwendig uit
tot alle moontlike konklusies,
besluit hy
in die reën in die agterplaas
onder die boom
wat nou
hier
op hierdie manier
groei.

3

In die reën in die agterplaas
weet hy van visse wat sterf in seë van gulsigheid,
kinders wat huil in donker vrees,
verwarde oumense wat oor leë dae struikel.
Maar hy ken ook helder kettings diere
wat deur die blou tyd swiep,
kinders wat skater en speel,
ou mense wat stil en soet
konklusies van hul lewens word.

Diere kinders oumense almal
lê oneindig en onvernietigbaar
in strukture van tyd en ruimte.
'n Reuse skildery
wat in alle rigtings en dimensies glim,
tot by die verste konklusies
wat diep simmetries
god en duiwel manifesteer.
Vorige onderwerp: "Plaasensemble" deur GEORGE WEIDEMAN
Volgende onderwerp: "Weskus-Verse" deur PAULA MAUD
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 05:04:28 MGT 2024